
Lukas 8 : 4 – 15 Gelykenis van die saaier.
(Mt. 13:1-23 en ooreenk. pl.)
[4] EN toe daar ‘n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur ‘n gelykenis:
[5] ‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.
[6] En ‘n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.
[7] En ‘n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.
[8] En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!
[9] En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?
[10] En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.
[11] Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.
[12] Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.
[13] En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.
[14] En wat in die dorings geval het — dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.
[15] En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.